Pick up an IN-SEASON RECIPE and lots of yummy info on your #local #food supply. bit.ly/1QS1Ldx

Agri in die media

Regering se struggle-mode laat landbou met leë beloftes

Geagte gaste

Die damme in die Wes-Kaap is so leeg dat ons al deur hulle kan lóóp.

So paar eeue gelede het ‘n man – sy naam was Petus – OP die water geloop. Hy was saam met vriende in ‘n boot op die see toe die weer opsteek en hoë deinings hulle deur die nag baie benoud gehad het. Met dagbreek het Jesus op die see na hulle toe geloop en Petrus beveel om Hom op die water tegemoet te loop. Petrus het dit gedoen – hy het op die water geloop – maar toe hy die hoë, massiewe branders om hom sien, het hy beangs geraak en gesink.

Vriende, uit hierdie gebeure kan ons baie leer van hoe twyfel ons kan lamlê, en hoe vrees en angs en benoudheid van ons drenkelinge kan maak.

Maar, dit leer ons ook dat ons op water KAN loop.

Die mens is soms baie kortsigtig. Ons kyk maklik vas in branders en in golwe en ons sit benoud in ons bootjies en skep die water uit terwyl die wind ons verinneweer, maar op geen stadium klim ons UIT die boot uit en loop op die water na waar dit veilig is nie. Ons sal uitdagings eerder ignoreer. En dít veroorsaak vrees en golwe binne-in jouself.

Dit is ook nie anders vir ons landbouers nie. Ons is benoud oor die droogte, en oor hoe klimaatsverandering ons uitlewer aan rampe soos brande, wat hierdie jaar absolute vernietiging in die Wes-Kaap gesaai het.

Ons bekommer ons oor wat korrupsie en staatskaping vir die toekoms van ons besighede inhou. Wanneer die branders oor ons koppe breek, skarrel ons paniekerig om ons te skaar by diegene wie die meeste lawaai maak. Want ons glo lawaai beteken dat jy iets bereik. Lawaai is net lawaai. Dis al.

Wat uitdagings doen, is om ons te laat voel asof ons gemaksone uit sy skarniere geskud word.

Want alles het reg geloop; en skielik op ‘n dag wil iemand my grond vat; of ‘n droogte tref my; of daar word van my verwag om lone te betaal wat nie deur die produktiwiteit of uitset op my plaas geregverdig word nie.

Die land se hoogste ekonomiese groeikoers ooit is in die middeltermyn van President Nelson Mandela se bewind aangeteken, rondom 1996.

Toe President Thabo Mbeki en sy landbouminister Thoko Didiza in 2001 vir Agri SA gevra het om te help skryf aan Suid-Afrika se Strategiese Landbouplan, was landbou se droom om deel van die land se sukses te wees, nog lewendig. Dié droom het ongelukkig intussen getaan.

Want intussen het die Zuma-bedeling in 2012 met ‘n nuwe plan gekom: die Nasionale Ontwikkelingsplan.

En tussen Mbeki se plan en Zuma se plan, was daar ook die Agriculture Integrated Growth and Development Plan in 2012; die Strategic Plan for the Department of Agriculture, Forestry and Fisheries in 2013; en die Agriculture Policy Action Plan in 2014.

Kyk. Niemand kan ons regering daarvan beskuldig dat hy nie kan planne skryf nie. Maar hoekom het die strategiese landbouplan nie van die grond af gekom nie? Hoekom kom die Nasionale Ontwikkelingsplan nie van die grond af nie?

EK vermoed, en ek mag totaal verkeerd wees, dat die gebrek aan visie aan die kant van die implementeerders, die planskrywers se beste intensies tot niet. Daar moet ernstig gedebatteer word oor wie wat moet doen om beleid te verander om Suid-Afrika ekonomies aanloklik te maak.

As ‘n plan van ‘n miljoen nuwe werksgeleenthede praat, moet daar indringend gekyk word om die beleidshekkies wat dit gaan keer, aan te spreek.

Die probleem lê nie by die skrywers van die planne nie, maar by diegene wat die plan moet implementeer en nie mag wil afstaan nie.

Politieke- en stamfaksies sorg dat die planne wat in die land gemaak word, nie slaag nie. Dit sorg vir ‘n totale vakuum waarbinne dit heeltemal onmoontlik is om enige plan uit te voer.

Maar waar laat dit ons? Dit laat ons met ‘n regering wat nie die sprong kan maak van struggle-mode na ekonomiese groei-mode nie. Ons is in struggle-mode met inkomsteverskille. Ons is in struggle-mode met vaardigheidsontwikkeling. Ons is in struggle-mode met almal in die land se veiligheid. Ons is in struggle-mode met infrastruktuur-ontwikkeling en instandhouding. Ons is in struggle-mode met geen waterplan in sig vir Suid-Afrika nie. Ons is in struggle mode met ‘n regering wat óf nie kundig is nie, óf nie die WIL het om die land na die volgende vlak te neem nie. Ons is in struggle mode met kredietafgraderings; en met korrupsie; en met staatskaping.

Ons struggle voort in die onderwys, van ons skole tot op tersiêre opvoedingsvlak. Ons struggle in ons munisipaliteite. Ons struggle met uitsprake van radikale ekonomiese transformsie, groot woorde wat die regering gebruik om hulle nóg groter mislukkings toe te smeer. Ons struggle met ‘n bewind wat bang is dat goeie regering hulle mag gaan afwater. Die landbou struggle met leë beloftes van regeringsondersteuning.

Dit is nou die tyd dat landbou sy merk maak. Dit is nou tyd vir landbou om die merk wat hy al klaar gemaak het, te herbevestig.

In die Wes-Kaap is landbou se bruto-waardetoevoeging R18.6 biljoen per jaar. Die Wes-Kaap produseer meer as 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere, met die Europese Unie as een van die grootste bestemmings, en amper 75% van die buitelandse wynverkope van meer as R5 biljoen.

Die Wes-Kaap se reële ekonomie word gedomineer deur kommersiele en vervaardigingslandbou. Ons het nie direkte voordeel getrek uit die kommoditeitsontploffing nie, maar landbou in die Wes-Kaap is sedert die land se negatiewe groei vanaf 2011 minder benadeel as die myngedrewe provinsies.

En terwyl ons nou van mynbou-aktiwiteite praat, doen ek namens die landbou in die Wes-Kaap ‘n beroep op minister Winde wat hier sit, dat die Wes-Kaap se wetgewer ons sterk sal ondersteun waar enige myn-eksplorasie die gans wat die goue eier vir hierdie provinsie lê, naamlik die kommersële landbou, verder benadeel.

Landbou dra nasionaal ongeveer 2% tot die BBP by, en die Wes-Kaap se gedeelte van hierdie 2% is 22.6%, want ons produseer hoëwaarde uitvoergewasse.

Vriende, hierdie syfers wys duidelik: Die Wes-Kaap se landbousektor is nie ‘n liggewig nie.

En as swaargewig rolspelers moet ons die regering begin beinvloed om die positiewe veranderings te maak wat kardinaal belangrik is vir investering en groei. Ons moet ons merk maak om die regering op hulle tone te hou. Ons moet ons merk maak om die landbou as fondament van die platteland sterk te hou. Ons moet ‘n merk namens die inwoners van ons landelike gemeenskappe wat droom van ‘n werk op die platteland.

Watter merk maak ons om geleenthede aan te gryp en waarde in uitdagings te ontsluit? Watter merk maak ons om die planeet te bewaar vir die volgende generasies? Hoe maak ons ‘n merk om weer in voeling met ons drome en ons waardes te kom?

Ons sê altyd die jeug is die toekoms. Maar die jeug is vandag hier saam met ons. Húlle nageslag is die toekoms. Wat gaan ons saam met die jeug doen om ‘n toekoms vir húlle nageslag te verseker?

Amerika se voormalige president Barack Obama het gesê “Making your mark on the world is hard. If it were easy, everybody would do it.” Om ‘n merk op die wêreld te maak, vra waagmoed, deursettingsvermoë en hoë etiese en morele beginsels. En dit vra dat jy weet waar jou krag vandaan gaan kom wanneer jy gaan nodig hê om op water te loop. En dit vra dat jy die moed van jou oortuiging moet hê om te staan by jou woord.

Maar; dit verg ook dat jy jou eie waarde nooit durf onderskat nie. Jou unieke eienskappe is ‘n onmisbare boublok in die merk wat die landbousektor elke dag kan maak.

Ons het min beheer oor wat rondom ons gebeur, maar ons het volle beheer oor waarop ons fokus. En ons moet daarop fokus om die druk groter te maak op die terreine waar ingryping nodig is en ons verandering wil sien. Is ons aktief betrokke by ons munisipaliteite en by ons landbouverenigings en by plaaslike forums wat die gemeenskap bedien? Want dit is waar die verandering gaan begin.

En landbou kan hier die leiding neem, want ons hét leiers in ons span wat eerder die pad vorentoe glad wil teer as om die ligte uit te skiet. Om ligte uit te skiet, werk nie. Dit is nie realisties nie. Ons glo in spanwerk, want ons is in ‘n spansport. Ons is spanspelers wat volgens ‘n ooreengekome spelpatroon moet speel. Landbou kan die rigting gee.

Die moeilikheid kom in wanneer uitdagings oor ons pad kom en in plaas van waarde daaruit te ontsluit, kies ons om dit te melk vir aandag. Daar is geen voortuitgang daarin nie, en dit gaan ons nêrens bring nie. Selfbejammering keer ons om die spiere te bou wat ons nodig het om ons merk op die lewe te maak.

Ons houding is ons grootste vriend, of ons grootste vyand. Dit trek mense na ons toe aan, of dit stoot hulle af. Ons houding se wortels is na binne, maar die vrugte sal aan die buitekant sigbaar wees.

Dit voel baie keer vir ons asof ons in ‘n tyd leef wat die uitvloeisel is van ‘n spreekwoord wat ‘n ou Chinese wysgeer honderde jare gelede vir sy gehoor gesê het: “May you live in interesting times”.

Dit klink na ‘n onskuldige opmerking, maar eintlik het hy hulle hiermee ‘n moeilike toekoms toegewens. Ons beleef daagliks “interesting times”, en dit onderwerp ons dikwels aan vertwyfeling, onsekerheid en besluitloosheid.

Ander, ongelukkig ‘n klein minderheid, ervaar hierdie “interesting times” as uitdagings wat hulle op die water laat loop.

Waar staan u en ek vandag? Ons vermoë om op water te loop, hang af van waarop ons fokus. Op WIE ons fokus. Ek sluit af met ʼn gedagte van Dr Stephan Joubert wat vanaand hier is en wat more ons kongres gaan open:

is ons “God-spotters”, of is ons “trouble-spotters”? Weet ons waar om te fokus wanneer ons nodig het om die golwe om ons en in ons te trotseer?

Ek wil afsluit om vanaand baie, baie dankie te sê aan elke produsent en individu wat die afgelope maande so mildelik bygedra het tot Agri Wes-Kaap se droogtehulpfonds. Dankie vir elke baal voer, vir elke sent se finansiële bydrae en elke vragmotor wat beskikbaar gemaak is om voer rond te skuif. Dankie vir die merk wat julle maak om ons landbouers op hulle plase en hulle gemoed sterk te hou.

Ek dank u.
Mnr Cornie Swart
President: Agri Wes-Kaap

Posted on August 1, 2017 in Blog

Login

Agri Wes-Kaap lede log in

Nog nie 'n Agri Wes-Kaap lid?

Agri Wes-Kaap:

  • fokus voortdurend op die ontwikkeling van vooruitstrewende landboustrategieë.
  • bewerkstellig 'n positiewe beleidsraamwerk vir die landbou in die Wes-Kaap waarbinne wette, regulasies, ordinansies en gesindhede landbou-vriendelik is.
  • sien toe dat landbou in die Wes-Kaap sy eie toekoms verseker, deur aktiewe betrokkenheid op alle lewensterreine.
  • skep ‘n kollektiewe magsbasis vir die landbougemeenskap in die Wes-Kaap.
  • bied ‘n fokuspunt waardeur die kollektiewe belang van landbou in die Wes-Kaap optimaal bevorder word.

Doen aansoek om ‘n Agri Wes-Kaap lid te word Ons sal reëlings met jou plaaslike Landbouvereniging tref en skakel jou terug.

Not an Agri member yet?

Agri Western Cape:

  • constantly focuses on developing more progressive agricultural strategies.
  • negotiates a positive policy framework on behalf of agriculture in the Western Cape, within which laws, regulations, ordinances and attitudes are agriculture friendly.
  • provides a platform for agriculture in the Western Cape to ensure its own future, through involvement in all spheres of life.
  • creates a collective power base for the agricultural community of the Western Cape.
  • optimally promotes the collective interest of agriculture in the Western Cape.

Apply for Agri WC membership We will make arrangements via your local Agricultural Association and get back to you.

Awukabilolungu?

I-Agri Western Cape:

  • ihlala igxile kuphuhliso lwamaqhinga ezolimo anenkqubela nangakumbi.
  • yenza uthethathethwano loyilo lwemigaqo-nkqubo emihle egameni lwezolimo eNtshona Koloni, ekuye kuthi kuyo yuqunlunqwe imithetho, imigaqo, izibhengezo kunye nendlela yokucinga evelana nezolimo.
  • idala iqonga lokuba ezolimo ziqinisekisa ikamva lazo, ngokuzibandakanya kwiinkalo zonke zobomi.
  • idala isiseko esinamandla kuluntu lwezolimo eNtshona Koloni.
  • ikhuthaza ngokwaneleyo umdla kuwonke-wonke kwezolimo eNtshona Koloni.

Yenza isicelo sokuba lilingu Siza kwenza amalungiselelo neManyano yeZolimo yengingqi yakho, size sibuyele kuwe.
Join

Subscribe to our fun,
educational, inspiring
and winning updates -
and Grow Greatness
in your home.